Projekte
Moria se direksie het ‘n aantal jaarlikse fondsinsamelings-projekte geidentifiseer om skoolgeld so laag as moontlik te hou. Almal baat direk daarby en word aangemoedig om hierby te kom werk. Moria se uitstekende gees van eensgesindheid en samewerking word ook versterk en nuwe ouers leer mekaar sommer vinnig ken tydens hierdie gesamentlike diensbeurte. Gesinne kan gewoonlik ‘n aantal (word jaarliks bepaal) projekte, waarby hulle diens doen, kies. Sommige gesinne geniet dit so baie dat hulle by al die projekte betrokke raak en uithelp.
Interhuis Atletiek
Privaatskool Moria bied in samewerking met gemeenskapsvennote ons jaarlikse Interhuis Atletiekbyeenkoms aan. Twee spanne, die Blouspan en Rooispan meet kragte tydens geleenthede wat strek oor twee agtereenvolgende naweke.
Op die eerste Vrydag vind die jaarlikse landloop plaas.
Elke Moria leerling neem deel aan 'n 5 km wedloop en verwerf dan punte vir hulle spanne. Terselftertyd bevorder Moria 'n gesonde leefstyl deur almal aan te moedig tot liggaamlike oefening met 'n bewusmakingsveldtog wat in die dorp geloods word met elektroniese plakkate op sosiale media (Facebook; Instagram en WattsApp).
Die Baan en Veld-items vind plaas op die volgende Vrydag en Saterdag by die Outjo Sportstadion.
Alle gesinne is hierby betrokke en het 'n verpligte diensbeurt by die byeenkoms. Atlete neem deel aan baan en velditems en toeskouers bestaan uit die Moria gemeenskap wat vir die byeenkoms kom vanaf Outjo, Omaruru, Otjiwarongo, Kamanjab, Okakaujo, Opuwa, Swakopmund, Ondangwa en Grootfontein. Sowat 2500 toeskours en atlete trek gewoonlik saam oor die twee dae.

Sanlam Ontwikkelings Atletiekbyeenkoms
Privaatskool Moria bied hierdie byeenkoms in samewerking met vennote vanuit ons gemeenskap aan. Sanlam is die vennoot en titelborg wat sedert 2015 die byeenkoms ondersteun en finansieël steun.
Met Sanlam se borgskap word verseker dat atlete van verskillende privaatskole kan deelneem by ‘n goed georganiseerde atletiekbyeenkoms van gehalte.
Sowat 12 Skole, met meer as 500 atlete, woon jaarliks die byeenkoms by.

Kermis
Privaatskool Moria bied elke jaar in Julie-maand, ons oudste fondsinsamelings- en “lekkerkry” projek, die Kermis-naweek, aan. Dit behels ‘n groot kuier en groot sport op Outjo.
Die Kermis se advertensieveldtog skop sowat twee weke voor die Kermis-naweek af met drie blinde muise wat die “lekkerkry” aankondig met rasende vuvuzela’s in die strate en ook besoeke aan die kleuterskole in die dorp.

Outjo Wildsfees
Die jaarlikse Outjo Wildsfees word aangebied en georganiseer deur ‘n onafhanklike kommitee uit die gemeenskap.
Moria se ouerkorps werk tydens die fees om die organisasie van verskeie aktiwiteite, te ete en te drinke, en feestelikhede glad te laat verloop.
Vrugtekoeke
Moria-ouers swaai elke jaar houtlepels!
Geskryf deur -- Rene de Jager, gebore Coocke (Moria se Moeder Koek - Red.)
Watter 1996 Moria-ouer sou ooit kon droom dat hulle vrugtekoek-plan ‘n trotse tradisie sou bly? Niemand sou waarskynlik kon voorsien dat hierdie winsgewende fondsinsamelingsprojek ook geseën sou wees met sy eie bakkery nie!
As oudste Afrikaanse Privaatskool in Namibië is Privaatskool Moria reeds vanaf 1991 ʼn baanbreker in Christelik Afrikaanse kinderopvoeding. Ouers van Moria moes baie kreatief dink oor fondsinsameling om alle ‘Privaatskool’-planne te laat realiseer. Gelukkig het Moria ‘n hele paar bobaas baksters as ouers gehad en hulle het bietjie gespeel met resepte en toe opgekom met die BESTE VRUGTEKOEKRESEP OOIT! Met hierdie GEHEIME RESEP en ‘n span bereidwillige ouers, onderwysers en kinders, het die Moria vrugtekoekprojek in 1996 ontstaan.