Moria Akademie
Standaard:
Moria se akademiese uitslae getuig van ‘n hoë standaard. Uitslae hou jaar vir jaar kers vas met die IEB en die meeste vakke se gemiddelde is elke jaar baie goed vergelykbaar of hoër as die gemiddeld van die IEB. Gemeet aan die feit dat Namibiese skole met die room van Suid-Afrikaanse skole kompeteer is bogenoemde voorwaar ‘n uitsonderlike prestasie. Moria skryf dit toe aan leerkragte wat bereid is om altyd hul beste te gee en spesialiste op hul vakgebied is.
Wat verwag Moria van u as ouer:
Elke kind is uniek en ‘n individu wat geskape is met spesifieke talente en belangstellings. Kinders moet daarom vakke kies wat by hulle belangstellings pas. Daar is nie regte vakke en verkeerde vakke nie, daar is net regte en verkeerde keuses op grond van belangstelling, talente en die beroep wat die kind wil beoefen.


Vakkeuses is belangrik en nie iets waaroor ligtelik besluit moet word nie.
- Dit is belangrik om nie deur verkeerde vakkeuses deure toe te maak nie – doen betyds navorsing oor vereistes vir moontlike studierigtings by Universiteite en Technikons.
- Sommige ouers voel dat die kind vakke soos Wiskunde en Fisiese Wetenskap moet neem, maar 40% vir bv. Fisiese Wetenskap gaan die kind nie help vir toelating nie, dan is 50% of 60% vir ‘n ander vak eerder tot sy/haar voordeel.
- Dis belangrik om realisties te wees – die onderskeie vakvereistes gee ‘n aanduiding van die minimumvereistes om die vak suksesvol te neem tot op Graad 12 vlak. Leerlinge moet betyds weet wat die vereistes is en daarvoor werk.
‘n Leerling wat ‘n vak neem waarvoor hy nie opgewasse is nie word op drie terreine benadeel:
- Hy/sy moet meer tyd aan die vak spandeer en skeep sodoende ander vakke af waarin hy/sy andersins goed sou kon presteer.
- Dit plaas ‘n kind se selfvertroue onder groot druk om met werk te worstel wat bo sy/haar vuurmaakplek is.
- Indien die leerling later besluit om van vak te verander is hy/sy reeds agter in die nuwe vak wat hy in die plek van die ou een wil neem.
Keusevakke word in vier groepe ingedeel.
Elke leerling moet ten minste vier vakke kies. Die groepe is so ingedeel dat leerlinge ‘n keuse van studieriging kan uitoefen bv:
Wetenskaplik
Fisiese Wetenskappe
Biologie
Geografie
Wiskunde
BESIGHEID
Rekenaarstudies
Besigheidstudies
Rekeningkunde
Wiskunde / Kwantitatiewe Beredenering
PRAKTIES
Toerisme
Rekenaarstudies
Gasvryheidstudies
Kwantitatiewe Beredenering
IGO
Dit is vir Moria belangrik dat u as ouers die pad saam met u kinders stap en op hoogte bly van dit wat in u kind se akademiese lewe aangaan. Neem die vrymoedigheid om met leerkragte te skakel rakende jou kind se akademie. Indien jy positief belangstel in jou kind se akademie gee dit jou kind ‘n mate van sekuriteit om, vir hom/haarself en vir jou te wil presteer.
Van Moria se kant af probeer ons om op hoogte te bly met die wêreld daar buite deur vakke aan te bied wat prakties sin maak.