Entrepreneursgeleenthede
Leerlinge by Privaatskool Moria word aangemoedig om hulle vaardighede as entreperneurs op georganiseerde wyse te ontwikkel.

Graad 9: Kaskarwedren
Elke jaar word ‘n kaskarwedren deur die graad 9 klas beplan en aangebied. Die idee is om die klas te leer om as ‘n groep saam te beplan en besluite te neem op hul eie. Daarmee saam is dit ook ‘n geleentheid om mekaar te leer ken rakende sterkpunte en swakpunte. Die hoofdoel is om dit te geniet en daarmee saam skep dit ‘n geleentheid vir die klasse om geld in te samel d.m.v. ‘n borgvorm. Hierdie geld word dan tot voordeel van die kinders aangewend.

Graad 9: Entrepreneursdag
Graad 9's word die geleentheid gegee om ‘n een-dag besigheid te beplan en uit te voer. Reeds bestaande produkte en nuwe produkte word op die dag verkoop. Die kinders word vooraf in groepe gedeel en hulle het dan 2 maande om hierdie besigheid te beplan, op die been te bring, te bemark en uit te voer.

Graad 11: Snoepie
Die Graad 11 klas samel al die fondse vir hulle eie Matriekafskeid en hulle geskenk aan die skool, wat hulle aan die einde van Graad 12 oorhandig, in deur die snoepie te bestuur. Graad 11's doen die hele besigheidsbeplanning, uitvoering en bestuur. Hulle is self verantwoordelik vir aankope, verkope en gesonde besigheidspraktyk. Die resultate van goeie bestuur lewer 'n sak vol geld op vir 'n welverdiende matriekafskeid.