Landbou en Plattelandse Industrie

Privaatskool Moria dink dinamies oor die toekoms van ons kinders en bied vakke aan wat prakties sin maak, daarom het ons in 2019 die vak Landbou-en-Plattelandse Industrie in die laerskool (Graad 1-7) se leerplan bygevoeg. Die doel hiermee is om 'n liefde en aanvoeling te kweek vir die plattelandse industrie en veral voedselprodusering. Na suksesvolle imlementering van die vak in die laerskool sal dit uitgebrei word na die hoëskool.

Om die vak suksesvol aan te bied het Moria `n eie reeks studiemateriaal saamgestel wat toepaslik is vir Namibië en die plaaslike omstandighede.

Landbou en Plattelandse Industrie

Die boerderyindustrie speel 'n groot rol in die stabiliteit van Namibië. Namibiese boere het die verantwoordelikheid om Namibië te voed oor generasies aanvaar. Namibië voer egter steeds sowat 60% van sy  landbouprodukte wat verbruik word in. Dringende ontwikkeling in die industrie moet gestimuleer word om invoere te verminder en uitvoere te verhoog.

Voormalige president van die Namibiese Landbou Unie (NLU), Paul Smit, het gesê dat meer as 60% van die populasie in Namibië een of ander vorm van landbou produksie beoefen as inkomstebron, terwyl Landbou meer as 64 miljoen hektaar of 78% van die land grond insluit, waarvan 206 000 huishoudings en 1.17 miljoen mense deel uitmaak.

Om die boerderytradisie in Namibië voor te sit is dit van kardinale belang dat landbouonderwys en opleiding op alle vlakke van die samelewing sal plaasvind. Landbouonderwys en opleiding is een van die mees effektiewe maniere om landbou 'n langtermyn kans te gee in Namibië. Hierin wil Privaatskool Moria ‘n leidende rol speel.

Toenemende Behoefte

Met ʼn bevolking wat toeneem, neem die aanvraag na kos ook toe en moet meer met minder geproduseer word. Plaaslike en globale voedselsekuriteit raak ook 'n groter vraagstuk. Die toename in die vraag na voedsel en landbouprodukte en die tegnologiese ontwikkeling op landbou- en
nywerheidsgebied stel al groterwordende eise aan die landbougemeenskap.

Landbouverbouing en verwerkingsmetodes pas by die dag aan, nuwe masjiene word ingespan, verbouingspraktyke word geïntegreer en geïntensiveer en die verbruikers stel hoër eise aan die landbouprodukte. Daar word verder vereis dat landbou “groener” moet word – meer produkte moet dus met minder hulpbronne geproduseer word en terselfdertyd word daar verwag dat produksie volhoubaar moet wees. Nuwe tegnologie en presisieboerdery sal hul rol moet speel om te sorg dat genoeg geproduseer word om aan die groeiende wêreldbevolking en vraag te voldoen.

Namibiese landbou is verder verdeel in ʼn vooruitstrewende kommersiële  andbousektor aan die een kant en ʼn opkomende landbousektor. Beide hierdie sektore moet voortdurend ontwikkel word en landbou-opleiding kan die knelpunt help aanspreek, maar terselfdertyd ook help dat Namibië mededingend met die res van die wêreld kan bly.

In hierdie opsig het sekondêre en selfs tersiêre opleidingsinstansies ʼn groot taak om studente op te lei wat oor die nodige kennis en vaardighede beskik om hul plek in die ontwikkeling van landbou in Namibië vol te staan. Om hierdie uitdagings die hoof te bied, is goed opgeleide mense en navorsers ʼn voorvereiste. Dit is hier waar landbouskole en opleidingsinstansies in Namibië en wêreldwyd ʼn rol kan speel.

Privaatskool Moria identifiseer as gevolg van die bogenoemde behoeftes, Landbou as vakrigting en broodnodige opsie in die skool se leerplan.

Aard van beoogde opleiding by Moria

  • Privaatskool Moria se landbou opleiding sal nie wins nastreef nie.
  • Privaatskool Moria is oortuig daarvan dat Namibië ʼn dringende behoefte aan bekwame, landbouers het wat nie net in staat is om landbouprodukte van ʼn hoë kwaliteit aan te bied nie, maar wat ook oor die geloof, vermoë en besieldheid beskik om voedselsekuriteit binne Namibië te verseker.
  • Privaatskool Moria sal van sy personeel verwag om hierdie “kultuur” in alle modules/vakke in te bou en studente so toe te rus dat hulle in staat en entoesiasties is om nie net kennis en kundigheid aan hulle leerlinge oor te dra nie, maar hulle leerlinge ook sal besiel en toerus om bekwame en toegeruste Christene op alle lewensterreine te wees.
  • Dit is belangrik dat Landbou-leerlinge van jongs af moet verstaan dat hulle taak belangrik is en dat hulle ʼn waardevolle rol het om te vervul. Die beoefening van Landbou is 'n roeping. Daarom sal hulle van vroeg af leer dat:
    • Landbouproduksie menslike voortbestaan verseker deur die voorsiening van essensiële voedingstowwe.
    • Landbouers die grond bestuur namens die Here en dat hulle in der waarheid die grond leen en dit dienooreenkomstig moet bewaar sonder om produksie in te boet.
    • Sommige produksie-aspekte buite die beheer van die landbouer is en dat die prys deur internasionale ekonomieë bepaal word.
  • Privaatskool Moria sal verder sorg dat:
    • Met behulp van wetenskaplike kennis en praktiese vaardighede, ʼn liefde vir die grond, plante, diere en werktuie by leerders gekweek word.
    • ʼn Groot getal voornemende landbouers die geleentheid gegun word om die bedryf toegerus te kan betree of in te skryf vir tersiêre landbou-opleiding.
    • Die voorste tegnologie en kundigheid in die landbou-omgewing essensieel tot die beskikking van leerders gestel word.